
=====================================================================
Duitser berig in Afrikaans uit Europa (AV 7:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Duitser berig in Afrikaans uit Europa

Hendrik Schott vertel hoe hy Afrikaanse verslaggewer geword het van nuus uit sy bakermat en hoe hy in di amp behandel word.

SUID-AFRIKA se geskiedenis het daarvoor gesorg dat Afrikaanse koerante van oudsher eie korrespondente in Amsterdam en Londen het. Oor 
Duitsland  een van Suid-Afrika se belangrikste vennote op ekonomiese en politieke gebied  is daarenteen meestal uit ander lande of met 
behulp van nuusagentskappe verslag gedoen.

Sedert Mei 1999 het hierdie situasie egter verander. Die koerante en tydskrifte van Naspers asook Republikein 2000 in Windhoek ontvang 
sedertdien hul artikels en berigte oor Duitsland en die Europese Unie (EU) ook regstreeks en in Afrikaans uit die betrokke lande.

Vir mense in 'n taalgebied met tientalle miljoene moedertaalsprekers is hierdie nuus nie besonder belangwekkend nie. So is byvoorbeeld 
Duitse media-ondernemings gewoonlik kapitaalkragtig genoeg om eie verslaggewers in 'n groot aantal lande te kan bekostig. Anders is egter 
die situasie ten opsigte van die Afrikaanse (maar ook Engelse) media in Suider-Afrika, wat nie genoeg geld hiervoor het nie.

Wat is dan die voordele vir Afrikaanse lesers in Suid-Afrika en Namibi van 'n korrespondent wat in hul eie taal uit twee vir Suider-Afrika 
uiters belangrike lande gereeld verslag doen? Ten eerste verruim dit uiteraard die kennis oor twee lande wie se kultuur en tale nou met die 
Afrikaanse taal en kultuur verbonde is. Nou word uit 'n (Suider-)Afrikaanse perspektief geskryf wat daartoe bydra dat die betekenis van 
buitelandse nuus vir mense in Suider-Afrika duideliker word. As 'n mens byvoorbeeld 'n Afrikaanse nuusbydrae van Johann Allers, die SAUK se 
verslaggewer in Europa, met die berigte van CNN vergelyk wat dikwels in Suid-Afrikaanse en Namibiese nuusuitsendings gebruik word, is die 
antwoord baie duidelik.

Europese media gee om hierdie rede in die meeste gevalle voorkeur aan hul eie verslaggewers in die buiteland.

Artikels wat in Afrikaans en spesiaal vir Afrikaanse lesers geskryf is, moet uiteindelik help om die publikasies waarin hulle verskyn, vir 
kopers aantrekliker te maak. As Afrikaanse koerante op di manier selfs daarin kan slaag om gereeld belangwekkende nuus te publiseer wat 
hul anderstalige mededingers nie het nie, sal dit ook mense met ander huistale kan beweeg om Afrikaanse publikasies te koop.

In die geval van Naspers se korrespondent oor Duitsland en die EU is daar 'n opvallende kenmerk: Hy skryf sy artikels en berigte weliswaar 
in Afrikaans maar sy moedertaal is Duits. Ek is 'n gebore en geto Duitser wat met 'n Nederlandse vrou getroud is en wat my reeds jare lank 
met die Afrikaanse taal en kultuur, asook Suider-Afrika besig gehou het voordat ek vier jaar lank in Suid-Afrika kom woon het. Di 
agtergrond het die voordeel dat ek my in verskeie kulture kan verplaas en gebeurtenisse deur verskillende brille kan bekyk. Die feit dat ek 
die tale van Belgi en Duitsland praat, het bowendien die voordeel dat ek in my artikels die korrekte vertaling van Duitse en Nederlandse 
uitdrukkings kan gebruik en nie slegs 'n vertaling van Engelse terme moet hanteer wat die oorspronklike Duitse of Nederlandse uitdrukkings 
dikwels nie noukeurig genoeg weergee nie. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die Engelse benaming "Federal Republic of Germany", wat soms met 
Federale Republiek van Duitsland vertaal word, maar in goeie Afrikaans gewoon die Duitse Bondsrepubliek is. Slegs die invloed van Engelse 
nuusberigte het "Tsjetsjnja" en nie "Tsjetsjeni" nie (soos in Nederlands en Duits) in Afrikaans ingeburger laat raak.

"Globalisering" moet gereeld teen die Anglisistiese "globalisasie" veg, net soos die (volgens die HAT) korrekte woord "akkreditering" deur 
"akkreditasie" bedreig word. Terloops, die uitspraak van "euro" as "joero" in Afrikaans verbaas my telkens. In Europa word die naam van die 
nuwe munteenheid in elke land anders uitgespreek omdat die uitspraak by die eie taal aangepas word. Slegs Engelse noem dit "joero" en in 
Afrikaans moet dit natuurlik op die Afrikaanse manier uitgespreek word.

Omdat Afrikaans met Nederlands en Duits verwant is, kan vir nuwe woorde by di twee tale maklik geskikte uitdrukkings gevind word wat  
anders as in die geval van Engels  in ooreenstemming met Afrikaans se taalstruktuur is en wat tegelykertyd help om die lang lys van 
Anglisismes waaronder die Afrikaanse taal gebuk gaan, nie nog meer te laat uitdy nie. Anders as die outeur van 'n reklameteks vir Pharos se 
onlangs verskene publikasie New Words/Nuwe Woorde, wat trots vermeld dat daardie woordeboek "minder gepla met Anglisismes" is, hou ek 
persoonlik nie van die oormatige (en oorbodige) gebruik van Anglisismes nie, veral ten opsigte van die skryftaal. As 'n Afrikaanse 
verslaggewer beskou ek dit eerder as my taak om vindingryk te wees en  indien nodig  nuwe Afrikaanse woorde te skep as om klakkeloos 
Anglisistiese uitdrukkings te gebruik. Maar dit is uiteraard my persoonlike mening, wat waarskynlik nie altyd byval sal vind nie.

Omdat Afrikaans nie my moedertaal is nie, moet ek gereeld die verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) raadpleeg. En hier 
kan 'n mens weer sien hoe belangrik dit is dat die Afrikaanse taal met die nuutste tegnologiese ontwikkelinge tred hou. Hoeveel tydrowender 
sou my taak gewees het, indien daar geen elektroniese woordeboeke (die HAT is selfs op laserskyf verkrygbaar) of spellingtoetsers vir 
Afrikaans beskikbaar was nie. Dit is steeds verbasend hoeveel verskillende vakwoordeboeke in Afrikaans bestaan wat my daaglikse werk 
uitermate vergemaklik. Trouens, in my werk val dit my herhaaldelik op dat Nederlands op die gebied van vakterminologie nog steeds van groot 
nut vir Afrikaans kan wees.

'n Afrikaanse korrespondent in die buiteland is in twee opsigte eksoties. Ten eerste is daar baie min Suid-Afrikaanse verslaggewers in die 
buiteland en ten tweede verwag die meeste mense dat jy in Engels skryf as jy vir Suid-Afrikaanse media werk. 'n Vlaamse medewerker van die 
EU in Brussel was uiters verbaas dat hy die Afrikaanse teks op my Suid-Afrikaanse perskaart sonder probleme kon lees. En 'n 
Italiaanssprekende lid van die EU se persafdeling het my Afrikaanse akkrediteringsbrief onmiddellik as "eienaardige Nederlands" herken. 
Tydens perskonferensies in Berlyn, Bonn en Brussel val 'n Suid-Afrikaanse korrespondent dus onmiddellik op.

Opmerklik is die feit dat dokumente in Afrikaans by die persafdelings van die Duitse regering en die EU altyd sonder probleme aanvaar word 
(kommentaar: "ons het tog mense wat dit kan vertaal"), terwyl die bestaan van Afrikaans as volwaardige amptelike taal (ondanks die 
bepalinge van die Grondwet en die lippediens van politici ten gunste van meertaligheid) in die praktyk in Suid-Afrika steeds meer bedreig 
word.

Anders as nog tien jaar gelede reageer tans byna alle politici en ander gespreksgenote baie positief as jy vertel dat jy vir Afrikaanse 
koerante werk. Veral die huidige Duitse Bondspresident, Johannes Rau, is 'n groot vriend van Suid-Afrika. As ek in Duitsland uitgenooi word 
om oor Suid-Afrika of Afrikaans te praat, is ek telkens weer verbaas hoeveel mense kennis van Afrikaans besit en reeds Suider-Afrika besoek 
het. In Europese boekhandels ontdek 'n mens gereeld nuwe vertalings van Afrikaanse literatuur en meestal is selfs woordeboeke vir Afrikaans 
beskikbaar al is hulle in Europa ontsettend duur. Dit gaan dus goed met Afrikaans in Europa en ek is bly dat ek miskien deur my werk as 
Afrikaanse korrespondent 'n steentjie tot die bouwerk kan bydra. Dr. Hendrik Schott is vryskutjoernalis en konsultant in entrepreneurskap.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av7220.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 2000 /// Gee kans! Afrikaans se saak groei wreldwyd (AV 7:2) /// 
Trust het miljoene geskenk (AV 7:2) /// Kursus in Afrikaans (AV 7:2) /// Limeriek I (AV 7:2) /// 'Kom ons lees en laat lees' (AV 7:2) /// 
Limeriek II (AV 7:2) /// Vroeg in nuwe eeu (hoofartikel) (AV 7:2) /// In memoriam Ds. Flip van der Westhuizen (AV 7:2) /// Sebrastrepe s 
hul s vir Afrikaans (AV 7:2) /// Oor Afrikaans klap woord en weerwoord (AV 7:2) /// Tyd van liefh het aangebreek (AV 7:2) /// Man met 
swart baret se woorde rinkink (AV 7:2) /// 'Losing my religion' (AV 7:2) /// Taalslordigheid berokken skade (AV 7:2) /// Limeriek III (AV 
7:2) /// 'Etse! Tjeend gaan met grrawater uit!' (AV 7:2) /// Dans uit vergange se dae (AV 7:2) /// Nergensland (AV 7:2) /// Nag vol 
feeste! (AV 7:2) /// Duitser berig in Afrikaans uit Europa (AV 7:2) /// Staande ovasie vir Afrikaans (AV 7:2) /// Duitse toewyding 
toegespits op Afrikaans (AV 7:2) /// Ambassade reik kosbare CD uit (AV 7:2) /// 'Bubbelbad' borrel (AV 7:2) /// Waar's daai gogga? (AV 7:2) 
/// Wind van voor is niks nuuts nie (AV 7:2) /// Afrikaans en die jeug (AV 7:2) /// Hoe praat jy met tieners? (AV 7:2) /// Onthou om nie te 
vergeet nie (AV 7:2)

